Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 2 AUGUSTUS 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SARL-HF-ESB-KOMPETISIE: WEN ‘N ANTENNAHANDBOEK

SARL NEEM DEEL IN NASIONALE WETENSKAPWEEK

UITNODIGING OM ZS10WCS TE BEDIEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-HF-ESB-KOMPETISIE: WEN ‘N ANTENNAHANDBOEK

U word uitgenooi om vanmiddag, Sondag 2 Augustus, deel te neem aan die hoofkompetisie van die SARL, nl. die HF-foonkompetisie. Die doel van die kompetisie is om met soveel moontlik radioamateurs in Suider-Afrika kontak te maak op die 20, 40 en 80 meterbande. Deelnemers wat 'n logstaat instuur, word outomaties ingeskryf in 'n trekking vir 'n kopie van die nuwe basiese antennahandboek van die ARRL. Volle besonderhede is verkrygbaar by die uitgeligte item by www.sarl.org.za.

SARL NEEM DEEL AAN NASIONALE WETENSKAPWEEK

Die SARL neem deel aan die Nasionale Wetenskapweekprogram wat van 3 tot 7 Augustus plaasvind by die Sci Bona Wetenskapontdekkingsentrum in Newtown, Johannesburg. Die SARL-span bied elke dag twee sessies aan oor kommunikasiebeginsels, met ‘n demonstrasie van ‘n papegaaiherhaler soortgelyk aan die een wat in SumbandilaSat sal vlieg. Jon Willescroft, ZS6EF, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, en Francois Botha, ZS6BUU, sal die sessies aanbied.

ZS6SCI, die radiostasie by Sci Bona, sal bedien word deur vrywillige radioamateurs. Meer vrywilligers word benodig. As u belangstel, kontak asseblief vir Chris Gryffenberg by 083 543 5668.

Die multimedia-aanbieding sal na die geleentheid beskikbaar gestel word op www.sarl.org.za.

GENIET BACAR VOLGENDE SATERDAG

BACAR word Saterdag 8 Augustus tussen 08:00 en 08:15 vanaf ‘n private vliegveld naby Hartbeespoort gelanseer.

Die loonvrag sluit ‘n APRS-stelsel op 144,800 MHz in, wat twee minute voor lansering aangeskakel word, sodat APRS-stasies die vlug van BACAR kan volg. Die roepsein van die pakketbaken is ZS6SAT. ‘n BHF-baken op 144,825 MHz sal elke twee minute spraak, Gemoduleerde GG en GG uitsaai vir die eerste 30 minute, vir die volgende 119 minute sal dit elke vyf minute uitsaai en dan terugkeer na elke twee minute.

‘n 40 meterbaken sal elke minuut telemetrie-inligting op 7 022 kHz uitsaai. Hierdie inligting sluit die binne- en buitetemperature asook die lugdruk in millibar in. Besoek www.amsatsa.org.za vir meer inligting oor die vlug.

Radioamateurs wat ‘n telemetrielyn van die 40 meteruitsending, tesame met inligting van hulle ligging indien, sal ‘n BACAR-deelnamesertifikaat ontvang. Telemetrie-inligting moet op die lanseringsdatum na bacar@sarl.org.za gestuur word.

Grondbeheer is by die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum gesetel, vanwaar die vlug op ‘n videobeeld gevolg kan word. As u nie van plan is om BACAR self te volg nie, word u na die NARS uitgenooi om daar aan die aktiwiteite deel te neem. Leerders sal genooi word om die sentrum te besoek en deel te neem aan verskeie opsporings- en telemetrie-eksperimente. Die NARS sal vanaf 07:00 in werking wees. Die lansering sal op 145,750 in Gauteng en op HF op 7 082 kHz vanaf 07:45 gedek word.

DIE PERSEÏEDE IS OP PAD

Die aarde se baan kruis binnekort ‘n stroom stofrommel van die komeet Swift-Tuttle, die bron van die jaarlikse Perseïedemeteoorbui. Alhoewel die meteoortbui sy hoogtepunt eers tussen 11 en 12 Augustus bereik, is die skouspel reeds aan die gang.

Ons is tans nog net in die buitewyke van die rommelstroom. As u in die nag uitgaan en na die hemel kyk, sal u slegs ‘n paar Perseïede per uur sien.

Volgens NASA sal die aarde gedurende 12 Augustus deur die digste deel van die rommelstroom beweeg, wanneer dosyne meteore per uur te sien sal wees. Perseïede kan in enige deel van die hemelruim verskyn, en hulle sterte wys terug na die oorsprong in die Perseuskonstellasie.

Vir radioamateurs verskaf meteoorbuie baie geleenthede vir kommunikasie via meteorweerkaatsing. Sedert 2000 het verskeie digitale modusse wat deur rekenaarprogramme bedryf word, begin om spraak en GG te oorskadu. Die bekendste program is die swakseinsagteware WSJT, wat 'n spesifieke digitale protokol vir meteoorweerkaatsing optimiseer, ionosferiese verspreiding, AMA op BHF/UHF, asook HF ruimtelike voortplanting. Die program dekodeer seine van 'n breukdeel van 'n sekonde wat van geïoniseerde meteoriete weerkaats word en bestendige seine van 10 dB onder die hoorbare drumpel.

SARL-lede kan meer uitvind oor kommunikasie via meteoorweerkaatsing op die ledegedeelte van www.sarl.org.za. Op die tuisblad, klik op die gedeelte slegs vir lede in die hoekie regs bo en tik u pin in.

UITNODIGING OM ZS10WCS TE BEDIEN

Die SARL het ‘n uitnodiging aan klubs gestuur om die Wêreldbekersokker se spesiale geleentheidstasie, ZS10WCS, te bedien. Die tydperk tussen September en die sokkerreeks in Junie/Julie 2010 is opgedeel in tydgleuwe. Klubs is genooi om hulle keuse van een of meer tydgleuwe teen 15 Augustus 2009 in te dien. Die finale tydgleuwe sal per stemming tydens die Radiotegnologie in Aksie-simposium op 22 Augustus in Kaapstad beslis word. Volledige besonderhede is aan klubs versend in die nuutste SARL-brief. ‘n Afskrif kan afgelaai word vanaf www.sarl.org.za: kies ‘news’ en dan ‘Club Talk’.

As u daarin belang stel om ZS10WCS vanaf u radiostasie te bedien, kontak u klubkomitee. Tot op datum is slegs een versoek ontvang, dié van die Boland-amateurradioklub.

EERSTE OIB-WERKWINKEL MAANDAGAAND

Die eerste werkwinkel openbare inligtingsbeamptes word Maandagaand 3 Augustus om 20:00 aangebied. Klubs kan steeds 'n inligtingsbeampte nomineer deur die vorm te voltooi en dit per e-pos te stuur aan armi@sarl.org.za, nie later nie as Maandagoggend 08:00.

KOMPETISIENUUS

SARL se 160 meter-QSO-geselligheid. Die kompetisiekomitee het 6 logs ontvang en die uitslae is soos volg:

Beperkte Klas
1ste Johan Visagie, ZR4LP/6, 134 punte;

Onbeperkte Klas
1ste Jacques Vermeulen, ZS1WC, 202 punte;
2de Geoff Levey, ZS6GRL, 134 punte;
3de Jan Botha, ZS4JAN, 117 punte;
4de SA Pantsermuseum, 61 punte (bedien deur Dennis, ZS4BS);
5de Dennis Green, ZS4BS, 24 punte.

Die eerste SARL-JD-naelloop word op Nasionale Vrouedag, Sondag 9 Augustus, tussen 11:00 en 12:00 SAT gehou. ‘n Kontak tussen twee jong dames (JD’s) tel 5 punte, ‘n kontak tussen ‘n JD en ‘n OK tel 2 punte en ‘n kontak tussen twee OK’s tel 1 punt.

Die SARL se 40 meter mobiele kompetisie vind plaas op Sondag 9 Augustus tussen 15:00 en 17:00 SAT.

KLUBNUUS

HAMNET Gauteng-Suid rig ‘n spesiale woord van dank aan alle radioamateurs wat bystand gegee het tydens die munisipale stakings op Maandag 27 Julie 2009 – nie net aan dié wat by die rampbestuursentrum gehelp het nie, maar ook aan almal wat die frekwensies oopgehou het sodat noodverkeer sonder vertragings kon deurgaan. Dankie vir u hulp en ondersteuning.

‘n Vergadering van HAMNET Gauteng-Suid en rampbestuurvrywilligers vind Donderdagaand 6 Augustus om 19:00 by die Leon Ferreira-brandweerstasie in Boksburg plaas. Elkeen wat belangstel, is welkom. Vir meer inligting, kontak HAMNET Gauteng-Suid per e-pos aan zs6cog@gmail.com.

Die Overberg Amateurradioklub sal op 8 Augustus by die ope dag van Hermanus se Magnetiese Observatorium‘n stasie bedryf. Die Overbergklub nooi alle amateurs om aan die pret te kom deelneem. HF, digitaal and APRS word gedemonstreer. Vir meer inligting, kontak Andre, ZS1AZ, by 072 729 1680 of Sam, ZS1OR, by 028 316 1470.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Daar is tans geen amptelike sonvlekke nie maar hopelik sal die toestand nie te lank voortduur nie.

20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Smiddae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. Gedurende die laatmiddag en die aand gaan toestande na die noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië te maak. Gedurende die aand is kontakte met Nieu-Seeland op 40 m moontlik, en ook 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, noordwestelike, suidoostelike en suidwestelike paaie gaan uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Die Noord-Kaliforniese DX-stigting se internasionale bakennetwerk word by Hermanus se Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens tot onlangs gehoor is.

Vincent, ZS6BTY, publiseer op die Pretoriase Amateurradioklub se webwerf 'n uitstekende grafiese voorspelling van die kommunikasieskakelbetroubaarheid vir elke amateurband. Die voorspelling word uurliks opgedateer. Besoek gerus www.parc.org.za en kies dan "Propagation”.

'n Goeie antennastelsel is die antwoord vir die huidige minder gunstige sonvlektoestande. Dipool- of verkieslik winsantennas, wat ten minste 12 m bokant die grond is, word benodig om die stralingshoek laag genoeg te kry vir kontakte met DX-stasies. 'n Goeie antenna-opstelling is die beste belegging wat 'n amateur kan maak.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. Dit is goeie nuus vir vanmiddag se SARL-wedstryd. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings besig om af te neem, wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak. Nou is die tyd om kontakte te maak vir u WAZS-toekenning op 80 m.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

2 Augustus – SARL-HF-ESB-kompetisie;
3-7 Augustus – Nasionale Wetenskapweek en ZS6SCI op die lug;
3 Augustus – Telekonferensie van beamptes van die Publieke Inligtingsnetwerk om 20:00;
6 Augustus – HAMNET Gauteng-Suid se vergadering;
8 Augustus – BACAR-vlug en Overbergse ARK/HMO ope dag;
9 Augustus – SARL-JD-naelloop en SARL-40 m- mobiele kompetisie;
22 Augustus – RTA in die Kaap;
30 Augustus – SARL-HF-GG-kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel en deur Hester van der Walt versorg is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003